Sunday, 7 July 2013

Stemme deur kritici van die NASPERS boikot

Die volgende is deur Bertus Osbloed van Niekerk geskryf:

Veldmaarskalk Dan het die plot verloor 
Ek skryf met huiwering.  Ek is toegevoeg tot ‘n Facebookblad wat op die oog af rondom Dan Roodt sentreer: “Boikot Naspers! Genoeg is genoeg!”  Hierop word foto’s geplak wat onder meer proklameer: “Plaasmoorde – geborg deur Rapport, jou ANC-koerant.”  Daar’s heelwat kollages van bebloede blankes en swart mans met pistole in maskers, met byskrifte dat hulle op pad is om Afrikaners te vermoor.  Van die meer lagwekkende foto’s op die blad beweer dat blankes Noord Amerika 9000 jaar gelede gekolonialiseer het en dat daar geen plek in die VSA vir Indiane of swart mense is nie en dat alle rasse buiten dié met koukasiese afkoms dom is.  Natuurlik drup kommentare en aanmerkings ook gereeld 'n godsdienssousie.


As jy deur die blad blaai, sien jy buiten vir Dan Roodt se persoonlike insette so dertigstuks xenophobe met name soos Opsaal mijn Volk, Rasbewus, Boerekrisis, Boerseun, Boere Vryheid (sic) en heelwat deelnemers aan die gesprek het die Vierkleur of ou Vrystaatse vlag as profielfoto.  Die ou Suid-Afrikaanse vlag is natuurlik op elke tweede profiel sigbaar.  Slagspreuke soos “Brand Rapport” word herhaal en daar is ‘n lang lys van Media24-publikasies met ‘n aanbeveling dat hulle nie gekoop mag word nie.  Ook DStv moet in die slag bly.  Die hele atmosfeer in die blad herinner aan ‘n algemene laertrekkery. 

Dan Roodt plak self op die blad van sy artikels wat voorheen op PRAAG se webwerf verskyn het en Steve Hofmeyr word ruim aangehaal.  Sondagoggend het Dan dapper uitgeroep dat daar meer as 7000 lede in drie dae op die blad aangesluit het.  Teen Sondag middagete het die ledetal 7600 oorskry.  Ek het op die blad gevra na eenstemmigheid van lede siende dat ek heel teen my sin en sonder my medewete bygevoeg is, maar ek is summier stilgemaak en herinner aan twee van die blad se lys uitgangspunte:
2. Ons is nie 'n demokrasie nie en ons glo nie in vryheid van spraak nie.
3. Daar is geen verraaiers of skimme of sulke nonsens nie.  Enige iemand kan vra om aan te sluit maar as jy aansluit en probeer nonsens maak verban ons jou.

Ek het deur die lys lede van die blad geblaai en ek was geskok om die name van onder meer bekende akteurs, sangers, prominente dominees, universiteitsdosente en selfs seniorjoernaliste in diens van Media24 daar raak te lees.  Ek vermoed hulle is ook teen hulle sin op die blad bygevoeg.  Teen Sondagaand het die blad se ledetal tot onder 6000 geval – ek vermoed sommige Facebookgebruikers het uit irritasie met die verwaande selfaangestelde kommandante gewoon stilweg verdwyn.

Die blad het duidelik ten doel om te polariseer.  Lede steun rassisme openlik en moedig haatspraak aan.  Van hulle bely dat hulle al ‘n dekade in Australië woon en daar ook alle media boikot.  En dan word dié wat koerante lees afgemaak as dat hulle volstruispolitiek bedryf!  Dan se feite is ook nie lekker aan die kant nie.  Sy ego is bietjie opgeblaas as hy dink sy ondersteuningsbasis is so wyd of sy impak so merkbaar.  Ek vermoed sy godkompleks ruk nou hande uit.  Hy kan nie meer tussen feite en opinie onderskei nie.

Natuurlik sou dit lekker wees om kompetisie in Afrikaanse media te sien.  Dit sou waarskynlik diverse beriggewing ondersteun en meer loopbaangeleenthede aan joernaliste bied.  Maar Dan, dis verregaande om demone agter elke bestaande publikasie te gaan jag.  Plus: jou paranoia en ‘n verbeelde invloed kan nie jou enigste mandaat wees in so ‘n veldtog nie!

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.