Wednesday, 10 July 2013

Femelende Naspers Ferdi se politieke heilighede

 Deur Dan Roodt

Ferdi Greyling: Los Kemptonpark se wonderwerk uit

Die swakkes van gees, soos die armes, sal ons altyd met ons hê. Gelukkig het die wêreld ook loodgieters en poskantoor-amptenare nodig, anders sou daar dalk nie vir hulle plek gewees het nie.

Die probleem is egter dat naïewe, horingdom Afrikaners dikwels in die nuwe orde tot posisies bevorder word wat, soos die Peter-prinsiep lui: "bokant die vlak van hul eie bekwaamheid" val. Vele naïewe, horingdom Afrikaners skryf natuurlik ook rubrieke in koerante van die Nasionale Persgroep.



As daar een koerant is wat nog dommer en kruiperiger as die gemidelde Naspers-koerant is, is dit Beeld. En as daar een rubriekskrywer is wat nog dommer en kruiperiger as die gemiddelde is, is dit Ferdi Greyling.

Femelende Ferdi is die dorpsidioot van die Afrikaanse joernalistiek. Dis 'n wonderwerk dat die man kan spel, maar miskien kan hy nie eens spel nie en is dit wat ons in die koerant lees bloot die resultaat van 'n spanpoging tussen hom en die sub-redakteur.

In elk geval. Ferdi het al baie lowende uitbarstings oor ons "pragtige grondwet" geskryf. Maar dit weerhou hom nie daarvan om nogmaals, so al om die drie maande, nóg 'n lowende uitbarsting oor die grondwet te prakseer nie.

En as die grondwet nog gekoppel kan word aan die woord "wonderwerk", dan is ons nou volledig in die bulkende Baptistekerk van Ferdi waar die lidmate handjies klap, swymelend in tale begin spreek, mekaar tranerig om die hals val en gelukwens oor "die wonderwerk".

In Ferdi se kerk gaan dit egter nie om die verlossing wat Christus gebring het nie, maar oor die verdrukking wat die ANK gebring het. 'n Verdrukking waarvoor ons, broeders en susters, oneindig dankbaar moet wees! Dit kon soveel erger gewees het. Die kranige guerillastryders en verskriklike vryheidsvegters kon ons dalk almal uitgemoor het! Wees dus dankbaar dat u nog lewe en soggens - dit boonop nog buite die tronk -die voëltjies kan hoor sing en die sonnetjie kan sien skyn.

Juvenalis se opmerking in sy eerste satire, "waarom sal ek die perkament ontsien as soveel digters dit opmors?" is insgelyks Ferdi Greyling se lewensfilosofie. Diegene met 'n groen bewussyn sal vandag huil as hulle daaraan dink dat bome afgekap moet word om aan mense soos Ferdi die geleentheid te bied om goeie koerantpapier te bederf.

Ferdi se titel kondig reeds die inhoud aan: Los Kemptonpark se wonderwerk uit. Hallelujah! Toe Roelf Meyer - waaroor die pankop owerspeler FW de Klerk uitgeroep het, "My God, Roelf, nou het jy ons moes uitverkoop!" - ons verraai en in die slymerige drein van 'n ANK-toekoms afgespoel het, het die engele geneurie en oor Ferdi se kerktoring gevlieg.

Daarom, soos Ferdi dit goedgelowig en naïef stel: "Daardie ooreenkoms (Meyer se Kempton-gesteier - DR) is 'n politieke heiligheid en is vandag die kern van omtrent ons hele samelewing. Dit is die fondament van versoening en samewerking tussen verskillende etniese groepe en dit vorm ons visie vir die toekoms."

Bid jou dit aan!

In die Roomse Kerk is daar 'n komitee van kardinale wat moet beslis of wonderwerke plaasgevind het of nie en of sommige Katolieke gelowiges werklik vir Moeder Maria iewers op 'n heuwel in Brasilië of Pole aanskou het (sover ek weet verskyn die Maagd gewoonlik aan sterflikes op 'n heuwel). In die Ferdi-kerk vir swaksinnige Afrikaners bestaan sulke verfyndhede nie en is dit 'n wonderwerk as een of ander dronk Boerehater-joernalis van die BBC dit in 'n oomblik van taalkundige onbeholpenheid as sodanig bestempel.

It's a miracle, man. Oh yeah. Pass me another pint, please.

Dus teem Ferdi agterna: "Die kwaliteit van die ooreenkoms en die diepe erns van alle partye wat vennote daarin was, het die buitewêreld in so 'n mate geïmponeer dat hulle dit as die 'Suid-Afrikaanse wonderwerk' bestempel het."

Die "buitewêreld"! In die naeltjiekyk-heelal van die naïewe, horingdom Afrikaner is die "buitewêreld" of "oorsee" al halfpad hemel toe en moet ons dit met gewyde ontsag behandel. Ons trek ons skoene uit as ons die vliegtuig by Jan Smuts-lughawe (binnekort O.R. Tambo Airport) bestyg en kniel in aanbidding voor die "politieke heiligheid" van Rinkhals Roelf se epifaniese oomblik van oorgawe aan Ramaphosa, soos dit al soveel keer deur Chris Louw, Patti Waldmeir en ander in boekvorm beskryf is.

Maar iewers is daar 'n slang in die gras, of liewer die paradys, want Femelende Ferdi spreek aan die einde van sy eulogie aan die grondwet sy kommer uit oor Brigitte (nie Bardot nie maar Mabandla) wat die howe se finansies wil oorneem. Dan is daar nog Hoofman Thabo wat dalkies vir hom 'n derde termyn sal "organiseer" deur die allerheilige grondwet met behulp van die ANK se 72% meerdheid te verander.

Nou wonder Ferdi so op sy eentjie en deur die newels van sy lekkergeloof dryf vae vraagskimme oor die waters. Nogal "bitter gevaarlike vrae", soos hy dit noem.

Om jou hand in die klas op te steek en 'n vraag te vra, is vir die Ferdi's van dié wêreld tereg 'n "bitter gevaarlike" stap. Dit impliseer immers 'n vorm van kognisie wat iewers in hul verstand wat hom gewoonlik met blinde aanbidding en ewe klakkelose konformisme besig hou, mag plaasvind. 'n Soort gejeuk iewers onder hulle hare waar dit gewoonlik nie behoort te jeuk nie.

Te veel "bitter gevaarlike vrae" en ons is binnekort by "kritiese denke" - wat in die nuwe Suid-Afrika sinoniem is met "kranksinnige regsheid en rassisme" - en van daar af is dit maar 'n hanetree na Van Wyk Louw se "skipbreuk van alle sekerhede".

Blykbaar klap Jakes Gerwel namens Hoofman Thabo die sweep op die Naspers-direksie as dit by die ideologiese inhoud van Beeld en ander ANK-mondstukke kom. In 'n hermeties verseëlde wêreld waar slegs een blye boodskap, dié van die revolusie en van "die wonderwerk" bestaan, weet ons dat Femelende Ferdi binnekort sy transdans rondom die aanvaarde "politieke heilighede" sal hervat.

En nogmaals sal Ferdi Hoofman Thabo en Sy Grondwet ten hemele prys.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.