Tuesday, 30 July 2013

Africa Check Nechama Brodie manipuleer misdaadstatistiek om Steve Hofmeyr verdag te maak

Me. Nechama Brodie van Africa Check is 'n selferkende simpatiseerder van Kommuniste
Deur Dr. Dan Roodt

Tans woed daar 'n polemiek rondom Steve Hofmeyr se uitspraak: “My stam sterf. Soos vlieë. Ons sterf teen ’n ongekende tempo. En dít in vredestyd."

Vandag in Rapport word Hofmeyr aangeval en 'n artikel op die internet deur 'n onbekende liberale joernalis, Nechama Brodie, klakkeloos aangehaal. Brodie werk glo vir Africa Check, 'n organisasie wat sy beginsels soos volg uiteensit:

"Africa Check is a non-partisan organisation that exists to fact-check claims made in the public arena, impartially and fairly, and publish the results. We also aim to spread the culture and enable the practice of fact-checking among the wider journalistic community."



Onder andere word Africa Check deur mnr. George Soros se Open Society Foundation for South Africa befonds. Ons weet dat George Soros ook van die "kleurrevolusies" in Oos-Europa befonds het en oor die algemeen die buitelandse beleid van die Amerikaanse Demokratiese Party ondersteun.

'n Mens wonder nou wat die belang van Africa Check en George Soros is om plaasmoorde en haatmisdade wat teen blanke Afrikaners in ons land gepleeg word, as "nie so erg nie" en "eintlik normaal" voor te stel?

Nechama Brodie haal die 2012-slagoffers-van-misdaad-opname aan waarin 35% van alle huishoudings geglo het dat "misdaad sedert die vorige periode gestyg het".

Kennelik is vrees vir geweldsmisdaad 'n reële probleem in Suid-Afrika. Maar in haar artikel kom Brodie tot die groteske gevolgtrekking dat: "Public figures like Hofmeyr, who disseminate grossly misleading information about crime patterns, only serve to contribute to this underlying fear. In addition, such misinformation creates or entrenches existing racial divisions and perpetuates an unfounded fear and hatred of other races."

Met ander woorde: Steve Hofmeyr is eiehandig verantwoordelik vir die vrees vir misdaad in Suid-Afrika! Nie die moordenaars, verkragters en ander geweldenaars waarvan ons elke dag in die media lees nie.

Nêrens in enige van Hofmeyr se uitsprake het hy al ooit rassehaat gepredik nie. Ons weet egter dat die Universiteit van die Witwatersrand 'n instelling is wat oor jare heen Afrikanerhaat gepredik het. Trouens, enkele jare gelede was ek teenwoordig by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se kantore in Parktown, Johannesburg toe 'n Wits-professor, 'n Indiërvrou, ten aanhore van die hele vertrek vol mense gesê het: "Afrikaners het miljoene swartes onder apartheid vermoor."

Miljoene. Omdat ek gedink het my ore bedrieg my, het ek gevra dat sy dit moet herhaal, wat sy toe gedoen het en sommer vir die effek in trane uitgebars het. Vergelyk dit met die 7 000 mense wat die skatting verteenwoordig van 'n bekende linkse aktivis, Max Coleman, wat in 1997 'n verslag by die Waarheids- en versoeningskommissie van Biskop Desmond Tutu ingedien het.

Afrikaners het "miljoene" swartmense doodgemaak, maar nou kom nog 'n Wits-verbonde instelling soos Africa Check en beweer dat die graad van moord, verkragting en geweld wat ons tans verduur, so min of meer normaal is.

Soos gewoonlik die geval is, het die Nasperskoerant, Rapport in Steve vat 'n kans oor wit moorde vandag die kant van Brodie en Wits bo dié van Steve Hofmeyr en die Afrikanerslagoffers gekies. Enigiets wat 'n Afrikaner verdag maak of afkraak, sal altyd simpatie by Rapport wek.

Wat was Steve Hofmeyr se "fout", indien dit hoegenaamd 'n fout was? Steve het bloot die aanname wat al die links-liberale kommentators in die land maak, naamlik dat "alle rassegroepe ewe veel misdaad pleeg en ewe veel daaronder ly" eerbiedig! Daarom het hy beweer dat daar min of meer al genoeg blankes doodgemaak is "om 'n sokkerstadium vol te maak".

Waarom is dit 'n billike afleiding om te maak? Indien daar 50 000 mense per jaar sedert 1994 vermoor is, beteken dit ná 19 jaar dat daar bykans 950 000 moordslagoffers in die land was, dus meer mense as wat in Rwanda vermoor is!

Omdat blankes 9% van die bevolking uitmaak, sou dit beteken dat 9% x 950 000 = 85 500 mense. Dis min of meer 'n stadion vol, miskien nie heeltemal Soccer City se volle kapasiteit nie, maar dis 'n aardige klomp mense om vermoor te word.

Brodie en ander wil egter beweer dat daar minder as 50 000 mense per jaar vermoor is, waaroor hier onder meer. Maar tot dusver het Steve eintlik bloot die liberale logika gevolg: "Ons is almal dieselfde en pleeg almal moord teen dieselfde tempo."

In haar artikel kom Brodie met 'n splinternuwe bewering vorendag en dit is dat die moordsyfer vir blanke slagoffers eintlik baie laer is as vir die res van die bevolking. Trouens, slegs 1,8% van alle moorde word op blankes gepleeg.

Waarop grond sy haar bewering? Op 'n enkele opname wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens self - met ander woorde geen onafhanklike liggaam nie - gedoen is! Daardie opname is gegrond op 'n steekproef van 1378 moorddossiere waaruit die ras van die slagoffers wel duidelik geblyk het. Toe PRAAG egter 'n jaar gelede saam met 'n ander Afrikaanse organisasie by die SA Polisiediens aansoek gedoen het om moordstatistiek waarin die ras van slagoffers aangedui word, is daar vir ons gesê dat "sulke inligting nie bestaan nie".

Word daar vir ons iets weggesteek? Kan ons die Polisiediens vertrou? Ons weet dat vele polisiemanne in die nuwe Suid-Afrika korrup, onbevoeg of selfs krimineel is. Van hulle pleeg misdade in uniform met hul eie dienspistole soos onlangs op Naboomspruit gebeur het! Agterna word hulle nie eens geskors nie; hulle word bloot van ander wapens voorsien.

Dieselfde orgaan vir George-Soros-propaganda, Rapport, skryf egter uit die pen van Zelda Jongbloed die volgende op 30 Maart vanjaar:

"Die afgelope week het ons van die parlement skokkende statistieke gekry, soos dat polisie-geweld die afgelope dekade met meer as 300% toegeneem het; dat een uit elke vyf polisielede by misdadigheid betrek word; dat die polisie betrek word by eise van R800 miljoen wat spruit uit aanrandingsake en R1,1 miljard wat spruit uit skietvoorvalle.

"In die laaste twee jaar het eise in siviele sake teen die polisie verdubbel tot R14,8 miljard.

"Soveel as 41% van burgers sê hulle vertrou nie die polisie nie, terwyl 35% doodbang is vir die polisie, dieselfde mense wat hulle teen misdadige skobbejakke moet beskerm."

Duidelik is Nechama Brodie een van die 59% van mense wat wel die polisie "vertrou". Daar is egter omstandigheidsgetuienis wat daarop dui dat die polisie misdaadstatistieke manipuleer of selfs vervals.

Ek het 'n ruk gelede 'n gesprek met 'n vrou in Pretoria gehad wat in haar huis aageval en aangerand is, darem nie verkrag nie. Sy is egter herhaaldelik gedreig dat hulle die snellers gaan trek en dit was 'n baie traumatiese ervaring. Die vrou het maande lank gesukkel om die saak aangemeld te kry en moes uiteindelik bes gee toe die polisie dit nie wou aanvaar nie. Die rowers het haar 'n "white bitch" genoem, iets wat die polisie nie in haar verklaring wou sien nie.

Die gebruik van die term "white bitch" kwalifiseer die insidente om in Amerikaanse terme 'n "haatmisdaad" genoem te word. Dit is ironies dat Suid-Afrika alle Amerikaanse rasseterme soos "regstellende aksie", "rassisme", SEB (die plaaslike ekwivalent van "minority procurement") oorgeneem het, maar nie "haatmisdaad" nie. Is dit omdat haatmisdaad in Suid-Afrika gewoonlik swart-op-wit is?

Ek weet van ten minste een geval waar nog 'n gewapende roof op 'n moord uitgeloop het. Toe is dit deur die polisie geregistreer as 'n huisbraak met 'n sterfgeval "aan natuurlike oorsake"! Die Vryheidsfront se woordvoerder oor justisie, Pieter Groenewald, sê hy glo nie eens die statistiek wat in die parlement verskaf word nie, "tensy dit geoudit word".

Maar Nechame Brodie aanvaar die polisie se eie statistiek, asook hul eie steekproef van 1378 moorddossiere as die reine waarheid. Daarmee poog sy, haar George-Soros-ondersteunde vereniging en Rapport om Steve Hofmeyr tot leuenaar te maak.

Die getuienis rondom ons sê vir ons dat die moordkoers baie hoër as die amptelike syfers moet wees. Elkeen van ons ken mense wie se familielede vermoor is of het self sulke vriende of familie. Met gevorderde wiskunde sou 'n mens seker 'n opname kon doen om te bepaal hoeveel blankes al deur moord geraak is en dit met die polisie se statistiek vergelyk.

Die regering weier om enige rassestatistiek oor moord bekend te maak; PRAAG het twee jaar gelede daarvoor gevra en die polisiediens beweer hulle het nie sulke statistiek nie. "Ons maak mekaar dood," dus is "ons" almal ewe skuldig.

Vanoggend het ek probeer kommentaar lewer op Rapport se artikel op die koerant se webblad, maar ná 'n rukkie is dit verwyder. Wat gaan hier aan? Rapport pas sensuur toe om Steve Hofmeyr swart te smeer en Nechama Brodie te beskerm!

Op dieselfde kommentaarafdeling op die Rapport-werf verskyn die volgende aanhaling deur Sunette Bridges, wat teen elfuur vanoggend nog nie deur Rapport se ywerige sensors verwyder is nie (volgens 'n meer onlangse twiet van Sunette het Rapport dit wel intussen verwyder):

"In die tydperk 1 Mei tot 27 Junie 2013 was daar 124 "swart-op-wit"-aanvalle op 202 slagoffers!

38 van ons mense is vermoor, 9 is verkrag en daar was 35 plaasaanvalle in 58 dae! ...en julle wil in statistieke praat?
Vanaf 1 Januarie 2013 tot 27 Junie 2013 het ek 230 "swart-op-wit"-aanvalle aangeteken.
97 blankes is deur swart mense vermoor.
3 ander het permanente breinskade en 1 is verlam.
17 vroue en 2 mans is verkrag - in meeste gevalle deur 'n hele bende!
Daar was 102 plaasaanvalle en 30 mense is tydens hierdie aanvalle vermoor! ...en dít in 178 dae!"
Bridges skryf verder: "In een hele jaar is een swart man deur 'n blanke man aangeval met 'n gholfstok by 'n gholfbaan en vir drie weke moes ons in die media lees en hoor van hierdie rassistiese aanval! Nog NOOIT is daar na 'n enkele "swart-op-wit"-aanval verwys as rassisties nie! Julle berig nie eers oor 20% van hierdie aanvalle nie, maar gryp na elke moontlike geleentheid om die feite te weerlê. Julle stilswye is een van die grootste redes waarom dit onverpoosd voortduur! Sedert Steve se gewraakte skrywe is NOG 5 van ons mense vermoor en vandag is daar geen enkele berig oor een van hierdie moorde in Rapport nie. Slegs hierdie berig waarmee julle poog om vir ons te vertel die maan is van kaas gemaak! 'n Mens weet nie of jy moet lag of huil nie... maar ek weet van 5 gesinne wat verseker nie vandag lag nie..."

Oor statistiek en die kwantum van aanvalle kan daar, in die afwesigheid van betroubare en eerlike syfers van die SA Polisiediens, nog lank geargumenteer word. Maar wat is die kwalitatiewe aspekte van hierdie situasie?

Daar bestaan sowel etniese as kriminele geweld in Suid-Afrika. As 'n groep is die Afrikanerminderheid geklassifiseer as behorende tot die vyfde stadium van volksmoord: polarisering. Dié klassifikasie is deur die onafhanklike Amerikaanse organisasie Genocide Watch gedoen, wat in die monitering van wêreldwye etniese konflikte spesialiseer.

Wat blote geweldsmisdaad betref, is Suid-Afrika waarskynlik die mees gewelddadige samelewing op aarde. Ons moet ook verstaan dat die "moordsyfer" waarvan die polisie praat, net "moord met voorbedagte rade" insluit en nie dít wat in die Suid-Afrikaanse reg as "manslag" bekendstaan nie. In vele ander lande bestaan daar nie so 'n onderskeid nie en kom dit slegs ter sprake waar oortreders gevonnis word. Moord is moord. In die syfers wat ek hier onder noem, het ek die twee kategorieë saamgevoeg sodat ons, in die gevleuelde woorde van Rapport, "appels met appels" kan vergelyk.

Hoewel ons moordkoers effens laer as dié van Hondurasm, El Salvador en die Ivoorkus is, raak Suid-Afrika egter die swaargewigkampioen van geweld ter wêreld as geweld teen vroue en gewapende roof daarby ook in ag geneem word.

Tans vind daar 27 397 moorde per jaar in Suid-Afrika plaas (Ek tel hier die SAPD se syfers vir moord en strafbare manslag bymekaar.) Daardie reële getal is die derde hoogste ter wêreld. Slegs Indië en Brasilië beskik oor meer moorde, maar hul bevolkings is soveel groter as ons s'n.

Die moordsyfer, in ag genome gevalle van manslag, oftewel moord "sonder voorbedagte rade" - is 54 per 100 000 lede van die bevolking. Dit is veel hoër as enige stad of deelstaat in die VSA. Selfs Detroit, Michigan, wat die gewelddadigste stad in Amerika is, beskik oor 'n laer moordkoers op 48,2 per 100 000 lede van die bevolking. Suid-Afrika in die geheel vergelyk dus met Detroit, maar met 10% meer moorde. Oor die algemeen word Detroit in die VSA as 'n stad met abnormale vlakke van geweldsmisdaad beskou, ongeveer agt keer hoër as die Amerikaanse gemiddeld.

As dit by verkragting kom, is ons koers van 127 per 100 000 meer as twee keer die koers van Detroit! Erger nog, volgens navorsing deur die Mediese Navorsingsraad van Suid-Afrika, 'n regeringsinstelling, word verkragting in ons onderaangemeld met 'n faktor van 25 teen 1. Die aantal verkragtings per jaar kan dus so hoog wees soos 1,3 miljoen per jaar, oftewel 3600 per dag. Om dit in perspektief te stel: dis amper vier keer hoër as die voorkoms van verkragting in die Demokratiese Republiek van die Kongo, 'n Afrikaland waar daar 'n burgeroorlog heers en waar verkragting as "oorlogswapen" gebruik word. Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het hom reeds oor verkragting in die Kongo uitgespreek, maar nie oor dieserlde misdade in Suid-Afrika nie.

Vier miljoen mense het reeds tydens die burgeroorlog in die Kongo omgekom. Na sekere beramings, sal 75% van Suid-Afrikaanse vroue ten minste eenkeer in hul lewens verkrag word. 'n Suid-Afrikaanse vrou beskik oor 'n groter kans om in haar leeftyd verkrag te word as om matriek deur te kom. Dis die soort "demokratiese" utopie waarin ons leef en wat deur Nechama Brodie en Rapport verdedig word.

Geweld eindig egter nie by moord en verkragting nie. Per jaar vind daar 192 670 gevalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer, plaas. Dit verteenwoordig 359 per 100 000 lede van die bevolking. Gewone aanrandingsake wat by die polisie aangemeld word, verteenwoordig 181 670 of 359  per 100 000 lede van die bevolking. Aangesien sulke sake na alle waarskynlikheid óók onderaangemeld word, kan daar maklik 'n miljoen gevalle van aanranding per jaar in Suid-Afrika wees.

Tesame met rooftogte by huise en sake-ondernemings, kan die aantal geweldsmisdade of ernstige oortredings per jaar miljoene wees, maklik so hoog soos vyf of ses miljoen. Aangesien daar 'n raps meer as 50 miljoen mense in die land is, beteken dit dat ongeveer tien persent van die bevolking jaarliks die slagoffer van een of ander vorm van geweldsmisdaad is!

Die statistiek wat ek hier genoem het, is die polisie se eie, in welke mate ons hulle ook al kan vertrou. Ten minste weet ons dat hulle nie geweldsmisdaad gaan óórskat nie, eerder onderskat.

Waar laat dit ons?

Ek het my ernstige bedenkinge oor die motief van Africa Check se verdagmakery en openbare aanval op Steve Hofmeyr. Ons beskik eenvoudig tans nie oor genoeg amptelike inligting om presies te sê hoeveel swart-op-wit geweld daar tans plaasvind nie. Die debat oor die moordkoers onder die ou regering is ook kompleks, want vele van die moorde was politieke moorde wat direk uit die buiteland aangehits en befonds is en was dus nooit deel van "algemene misdaad" destyds nie. Brodie wil die konflik wat deur Britte, Swede en ander aangehits is deur wapens en plofstof in die land te versprei, saam met gemenereg-misdaad indeel om sogenaamd "moordkoerse tydens apartheid" met die huidige koerse te vergelyk.

Ironies verwys die skryfster ook na 'n artikel deur Thomson van 2004 waarin aangedui word dat geweld onder kleurlingmans die hoogste in die land is, gevolg deur swart mans, Indiërmans en heel laaste blanke mans. Toe ek voorheen na dié artikel verwys het, is ek vir 'n "rassis" uitgekryt. Uit Thomson se statistiek en grafieke wat jare se gegewens verteenwoordig, kan ons sien dat geweldsmisdaad onder blankes inderdaad die laagste van alle rasse is.

Gegewe egter die links-liberale haatveldtog en opstokery wat daar reeds dekades lank teen Afrikaners gevoer word, en waarvan die "Kill-a-Boer"-liedjie maar net die top van die ysberg verteenwoordig, sal dit verbasend wees indien blankes tans hoegenaamd minder aan geweldsmisdaad blootgestel is as die res van die bevolking. Intuïtief - omdat ons reeds die teiken van vyandelike propaganda is - voel 'n mens aan dat daar méér geweld teen ons moet wees.

Statistieke kan egter nie die verontmensliking wat met plaasmoorde, asook gewapende aanvalle op kleinhoewes en huise, gepaardgaan, uitdruk nie. Die marteling, vernedering en koelbloedige teregstellings kwalifiseer sulke voorvalle om gruweldade genoem te word. Gegewe die omvang wat sulke gruweldade reeds ingeneem het, moet dit as 'n misdaad teen die mensdom beskou word.

Soos Kevin King nou die dag op die Engelse PRAAG geargumenteer het in White genocide in South Africa: the facts, gaan volksmoord nie oor statistiek nie, maar oor die beginsel dat die dader 'n bepaalde groep wil vernietig:

"According to the definition of genocide, “an individual criminal may be guilty of genocide even if he kills only one person, so long as he knew he was participating in a larger plan to destroy the group [or part of a group]”

Dit ly geen twyfel dat elemente in die Suid-Afrikaanse samelewing, plaasmoordenaars, maar ook links-liberale joernaliste en akademici, verenig is in hul afkeer van die Afrikaner, asook ons geskiedenis, tradisies, taal, kultuur, letterkunde en alles wat daarmee saamhang nie.

Die metodes wat hulle gebruik om ons uit te wis, verskil, maar die bedoeling stem ooreen: om ons te vernietig. Hetsy volksmoord, hetsy assimilasie, sal hulle goed pas.

Dat daar nou 'n heksejag teen Steve aan die gang is, spreek boekdele oor die kwaadwilligheid en vyandigheid van diegene wat geweld teen ons wil normaliseer.

Nomalisering kweek aanvaarding, berusting en die soort traak-my-nie-agtigheid wat deur Rapport en ander Naspersmedia gedemonstreer word.

Ons mag nooit die huidige geweld aanvaar en as "normaal" begin sien nie.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.